«

»

Week 4

Wat gebeur met jou baba: weeks-pregnant_week-4 met embrio

Op ongeveer dag 8 na bevrugting word die embrio in die uteruswand ingeplant. Dit stem ooreen met ongeveer dag 22 na die eerste dag van die laaste maandstonde. Omtrent 30% van vroue kry ’n ligte inplantasie bloeding.

Sodra inplanting voltooi is begin die embrio om menslike chorioniese gonadotropien of mCG (hCG of human chorionic gonadotropin in Engels) af te skei. Dit is die swangerskap hormoon waarvoor getoets word om te bepaal of jy wel swanger is en sal binnekort die lyntjie op jou tuis swangerskaptoets laat verkleur!

mCG se doel is om die corpus luteum te onderhou sodat dit kan aanhou om progesteroon af te skei sodat swangerskap volgehou kan word, totdat die plasenta daardie funksie kan oorneem. Die plasenta sal gereed wees om oor te neem met progesteroon produksie teen die einde van week 5.

Die blastosist verdeel na inplanting in twee balletjies selle – die een balletjie begin om chorioniese villi te vorm wat deel sal maak van die plasenta en die ander een sal die baba vorm. Die amniotiese sak wat gevul sal word met vloeistof vorm ook op hierdie stadium.4 weke oud

Aan die begin van die week is die embrio meestal net ’n plat skyf maar teen die einde van die week lyk dit soos ’n paddavissie wat opgekrul het.

Begin van week 4: Die hartbuis ontwikkel en begin vou – dit is die buis wat sal draai sodat jou baba ’n hart met vier kamers sal hê. Die neuraalbuis ontwikkel nog en sal nou begin toemaak. Dit is die deel wat jou baba se rugstring sal vorm. Die somiete wat verskillende dele van die baba sal maak, ontwikkel ook nou. Die plasenta groei vinnig en die naelstring begin vorm aanneem. Die naelstring sal verantwoordelik wees om belangrike voedingstowwe en suurstof na jou baba te neem en om alle afvalstowwe en gifstowwe weg van hom te neem.

Einde week 4: Die hart en lewer groei vinnig om ’n prominente boggel aan die voorkant van die embrio te laat vorm. Dit lyk soos ’n baie groot magie. Die oog vlekke en oor vlekke ontwikkel waar jou baba se oë en ore sal vorm. Die boonste ledemate se knoppies begin vorm. Dit sal jou baba se arms en hande word. Die mond-vou raak meer sigbaar.

Wanneer die plasenta begin vorm, vorm die naelstring ook. Die verskillende organe gaan nou begin ontwikkel uit die drie kiemlae.

Die embrio bestaan nou uit die volgende drie lae:

 

Laag van die embrio

Dele wat daaruit sal vorm

Endoderm of binnelaag Longe, lewer en spysverteringskanaal
Mesoderm of middellaag Hart, geslagsdele, bene, niere en spiere
Ektoderm of buitelaag Vel, hare, oë en senuweestelsel

Teen die einde van week 4 is die embrio al tienduisend keer groter as die oorspronklike bevrugte eiersel en is nou omtrent so groot soos ’n poppie saad!

Wat gebeur met jou:

In hierdie tyd vind inplanting plaas en jy begin swangerskap simptome ervaar. Jy kan ook inplantasie bloeding ervaar. Dit is ligte bloeding wat ligte pienk, rooierig of bruin kan wees en dit gebeur omdat die embrio homself in die baarmoederwand tuismaak.

Swangerskap simptome en tekens sluit in:

  • Geswolle en sensitiewe borste: Die progesteroon en estrogeen wat op hierdie stadium deur jou liggaam afgeskei word veroorsaak hierdie sensitiwiteit en swelling. Jou borste begin stadig maar seker voorberei vir melkproduksie vir die baba wat moet kom.
  • Moegheid: Swangerskap neem baie uit jou liggaam en jy word gouer moeg, veral teen die middag na ’n lang dag. Op hierdie stadium gebruik jou liggaam baie energie om te help om ’n gesonde plasenta te maak. Jy kan dit probeer beter maak deur na jou liggaam te luister, moenie probeer om super-mamma te wees nie. Gaan vroeër bed toe en kry meer slaap in. Probeer ook om reg te eet sodat jou liggaam gesonde kos het om sy energie van te verkry. Oefen – oefening kan help om jou bloedsomloop te verbeter en jou beter te laat slaap. Moenie dit oordoen nie, ’n flinke stappie om die blok is genoeg.
  • Bloeding en krampe: Soms ervaar mens effense bloeding en krampe, wat normaal is en niks om jou oor te bekommer nie. Dit gebeur ongeveer 10 dae na bevrugting.
  • Naarheid of oggendnaarheid: Naarheid kom soms nou al voor, maar gewoonlik begin dit eers na ’n paar weke. Gewoonlik is dit erger in die oggend maar kan die hele dag aanhou. Dit word veroorsaak deurdat mens se reuksintuig skerper is en deur die kombinasie van hormone in jou liggaam. Gemmer kan help om naarheid te verlig – maak vir jou ’n warm beker gemmer tee en geniet dit in die bed. Jy kan ook probeer om ’n mariebeskuitjie te eet ’n rukkie voordat jy opstaan.
  • Opgeblaas: Sommige vroue ervaar ’n opgeblase gevoel en dis weereens die effek van progesteroon wat veroorsaak dat jou spysverteringstelsel stadiger werk om jou liggaam meer tyd te gee om jou kos beter te verteer. Sodoende verseker jou liggaam dat dit genoeg voedingstowwe verkry vir jou groeiende baba. Weereens is progesteroon die skuldige. Dit veroorsaak opgeblaasheid en winderigheid.

Wat kan jy doen om dit te verbeter? Drink baie water om hardlywigheid te voorkom. Eet kleiner maaltye en eet meer gereeld. Eet ook stadig sodat jy nie lug sluk nie. Vermy kosse wat gas kan produseer soos kool, boontjies en rou uie.

  • Urineer dikwels: Ewe skielik moet jy elke kort-kort ’n draai loop! Dit is een van die algemeenste simptome van swangerskap en kom veral in die eerste trimester en die laaste ruk van swangerskap voor. Die hormoon mCG is verantwoordelik daarvoor aangesien dit die bloedtoevoer na jou pelvis vermeerder. Dit is noodsaaklik aangesien die niere meer afvalstowwe uit die bloed moet verwyder – joune en die baba s’n. Jou uterus druk ook op jou blaas wat jou die laat voel of die nood druk! Dit raak beter in die tweede trimester, maar weer erger in die laaste trimester.

Wat kan jy doen om dit beter te maak? Moenie minder vloeistof drink nie, jou liggaam het nou baie vloeistof nodig. Jy kan eerder die volgende probeer: Leun vorentoe wanneer jy piepie sodat jou blaas leër is na die tyd. Probeer ook om die laaste druppels uit te druk as jy klaar is. Verminder jou kafeïen inname omdat kafeïen mens meer laat urineer.

Wat kan jy die week doen?

Maak seker jy neem die regte swangerskap aanvullings soos vitamiene, minerale en omega olies.

 

 

Pin It

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

Powered by sweetCaptcha